Thursday 23 May 2013


Sewentiende Laan in Bellville – opgedra aan tannie Doreen

Nou nog, as ek aan haar dink, hoor ek haar aansteeklike lag, onthou ek haar groot-groot hart  … én daai blou kewertjie, waarin ek ook dikwels rondgekarwei is … (Sy het vir daai einste kewertjie ‘n garage laat bou, en toe ‘n paartie gehou om dit in te wy. Só is tannie Doreen – sy vier die lewe!)

Almal weet van Sewende Laan in Melville, maar ék ken vir Sewentiende Laan in Bellville.

Laat ek julle bietjie vertel: sien, selwers het ek het in Sestiende Laan grootgeword …

Een warm somermiddag in 1965, toe ek in Sub. A was, loop ek ‘n kordate dogtertjie met ‘n kortbroekie en spierwit poniestert op die hoek van onse Laan en Bostonstraat raak. Ek herken haar as een van my klasmaats. Sy lig my ewe geselserig in dat sy eintlik baie naby woon (“net ‘n straat óp”), en noem terloops dat ek gerus ‘n bietjie kan kom speel. Só het ek en Elmarie maatjies geword, en ons is steeds maats, al woon ek in die Kaap en sy in Kanada.

Ek kan nie my eerste ontmoeting met haar ma, tannie Doreen, onthou nie, maar haar reputasie dat sy “regtig ’n gawe vrou” is, het haar vooruitgeloop. Sy was ‘n baie slim, goed gekwalifiseerde verpleegsuster, eers by Karel Bremer en later by Tygerberg Hospitaal. Dus was sy nie by die huis as ek in die week daar gaan speel het nie. Ek het haar eintlik oor naweke leer ken.

Tannie Doreen het in ‘n weeshuis (in George, as ek reg onthou) grootgeword. Elmarie het graag vir my vertel dat, toe die Nasionale Party in 1948 die verkiesing gewen het, die huismoeder al die kinders rondom die huisorreltjie laat staan en vir hulle “Dank God, ons land is weer vry” uit volle bors laat sing het.

Ek het uit die staanspoor baie tuis by Sewentiende Laan nommer veertien gevoel. Smiddae het ons skool-skool gespeel en soms vir die huishulp, Sophia, geterroriseer om ‘seblieftog vir ons koffie te maak. Ons het gesoebat, ons het haar gevlei en weer gesoebat tot ons ons sin gekry het …  En as die kerkklok, ‘n paar strate ondertoe, vyf keer slaan, moes ek vinnig huis toe hardloop, anders raas my ma.

As ek by Elmarie oorgeslaap het, is daar matrasse op die eetkamervloer gesit, en twee slaapsakke het van iewers vandaan verskyn. Ek kan onthou dat ons menige Vrydagaand op daai einste matrasse omgespring het, en eers teen 3:00 die oggend van pure uitputting aan die slaap geraak het. En tannie Doreen het nooit-ooit geraas nie (“anyway”, nie daaroor nie) … Sy het my telkemale verseker dat ek soos ‘n kind in haar huis is. En ja, het Elmarie dan ook soms ewe wysneusig beaam, haar ma is tog baie bly dat sy nie met ‘n “skollie-meisie” bevriend is nie. En dan het ek altevol trots op mysigselwers gevoel!

Ek onthou vir tannie Doreen as ‘n besonder liefdevolle ma. In die middel-sewentigerjare was daar ‘n grensoorlog en gerugte van nóg oorloë en daarmee gepaardgaande hongersnood en ellende. My pa het ernstig verklaar dat, as daar die dag nie meer kos is nie, hy darem sal kan sê toe dit daar was, hy dit ganser harte geniet het! En ek het toe ook maar, met groot onrus in my hart, by voorbaat weggelê om vir die maer jare te probeer voorsiening maak. Tannie Doreen was egter doodkalm – sy sou nie toelaat dat háár kinders honger ly nie, al moes sy vir hulle kos by die hospitaal steel! Vir my het dit na ‘n baie praktiese, logiese oplossing geklink. Dit het getuig van opregte moederliefde, en het ‘n ontuitwisbare indruk op my gemaak.

Vir my het dit dus altyd gelyk of tannie Doreen enige krisis komkommerkoel die hoof kon bied!

Een Saterdag het ek ewe wintie met ‘n spierwit nuwe Crimplene-uitrusting by die Louws gaan kuier, en toe ek my weer kom kry, is ek vol ghries-kolle! Moenie my vra hoe dit gebeur het nie, maar ek was heel bevrees om só huis toe te gaan, want my ma was nogal kwaaierig. Tannie Doreen het egter gou-gou ‘n raat in ‘n boek opgespoor en ‘n paar uur later is ek met silwerskoon, winddroë klere huis toe …

En toe een sonnige Saterdagmiddag “passeer” die twaalfjarige uwe ‘n wurm. My onstelde moeder gee die ogedierte een kyk, prop dit sonder seremonie in ‘n skroefbotteltjie en sê dringend: “Gaan vra vir tannie Doreen.” Gedienstig sit ek die stukke in Sewentiende Laan toe, en toe ek by nommer veertien inbars, is tannie Doreen ewe vrolik, met bengelende oorbelle aan, besig om die een sitkamermuur skoon te was. “Tannie, ons het nou so geskrik!” Rustig draai sy om en vra: “Nou hoe só, my skat?” Ek fluister my skandelike storie in haar oor en oorhandig die skrikwekkende bewysstuk. Noukeurig beloer sy dit, en identifiseer dit uiteindelik op grond van inligting in een van haar boeke. En sy stuur my huis toe met mediese advies, ‘n bemoedigende kloppie op die skouer en ‘n veel ligter gemoed.

Ek onthou ook die allerheerlikste kos wat sy in haar kombuis opgetower het. En soms het sy ‘n skare onverwagte gaste met “toasted cheese” verras – “at the drop of a hat”, soos my pa sou sê. Sy het ook gereeld vir Mariannetjie met ‘n bakkie lekkernye na ons huis toe oorgestuur. Dan sê dié so ewe skamerig: “My ma sê tannie Debora moet proe.” Só het ek die eerste keer “beef olives” geëet, vir my ‘n uiters “eksotiese” ervaring in die baie vroeë sewentigerjare!

Tannie Doreen het haar dogters na haar hand geleer. Ek was sprakeloos van bewondering en afguns toe Elmarie al in standard vier kon kosmaak en mense onthaal. Elmarie en Marianne kon ook van jongs af met die wasmasjien en stofsuier werk. Seker dié dat Elmarie vandag nog so ‘n uiters knap huisvrou (onder andere!) is, en ek op 54-jarige ouderdom steeds in die stofsuier se koord verstrengel raak. Dis alles tannie Doreen se skuld – sy moes my ook destyds geleer het!

Haar deur het aljimmers vir vriende, familie en bure oopgestaan. Daar het hulle ‘n holte vir hul voet gevind, ‘n skouer om op te huil, goeie raad of ‘n heerlike geselsie en kuiertjie.

Sy was altyd omring deur prettige, mense, laggies, grappies, lighartigheid: ek dink aan Pieter Raubenheimer, Sannie, Stompie, Ryno (oftewel Ry-later), Chris en Andrea. En daar was Abby en mnr. André Barnard (maar hy het darem soms by ons Retiewe ook gekuier!)

Een van die heel prettigste gaste was sekerlik oom Tarrie, haar jongste broer. As hy uit Pretoria kom kuier het, was dit letterlik “a laugh a minute” totdat jou wangspiere later pyn. Ek onthou hoe ek, hy, Elmarie en Wilma (wat nou in Nederland woon) een middag by Basil’s Superstore in Twaalfde Laan was (naby die vrieskas met bevrore hoenders), toe hy luidkeels soos ‘n haan begin kraai en sy arms op en af flap. Ek en Wilma was histeries, maar toe Elmarie haar kop verleë van haar oom Tarrie wegdraai, weeklaag hy luidkeels met so ‘n huilstemmetjie: “Elmarie, Elmarie, kén jy my nie meer nie?!

Ek en Elmarie het een aand, toe ons in standard 6 was, die tranetrekker, Madame X, (met Lana Turner in die hoofrol) saam met tannie Doreen en oom Tarrie by die Nobelpark-sentrum gaan kyk. Toe ek en sy ná die prent huil-huil by die roltrap afstrompel, hoor ons ‘n hartverkeurende geween en gekners van tande op die roltrap wat boontoe gaan. Niemand anders as oom Tarrie wat sy snikke met ‘n handvol snesies probeer smoor nie! Toe hy by ons verbygaan, sien ek daardie onnutsige glimlaggie en besef hy is besig om vir my en Elmarie na te aap, tot groot vermaak van al die ander roltrap-ryers!

Oom Tarrie is later met Corrie getroud. Hul eersteling kry toe die fraaie, betowerende naam, Genevieve. Ek onthou nou nog hoe tannie Doreen byna stik van die lag toe sy my vertel “daai broer” van haar noem die arme bloedjie sommer “Poepie”.

(Ek moet darem net noem dat Elmarie selwers ‘n karaktertjie was. As ons op somermiddae van die Laerskool Totius af huis toe moes loop, het die hitte altyd vir haar op presies dieselfde plek ingehaal: voor ‘n sekere hoekhuis in Bostonstraat het sy dan haar tas op die sypaadjie neergegooi en sonder verdere seremonie plat op haar rug onder die motor gaan lê wat klaarblyklik permanent daar gestaan het. Dan het sy behaaglik geprewel: “Aaaaaa, koelte en genade.” Dit is flink opgevolg met: “Nou kan ek met ‘n glimlag op my gesig sterf.” Dan het sy opgespring, haar skooljurk afgestof en die laaste entjie huis toe met hernude ywer aangedurf.)

Deur die jare heen het ek sporadies by die Louws aangedoen, en elke keer is my batterye herlaai. Ek het oor daai huis gevoel soos ander mense oor Riaan Cruywagen – solank tannie Doreen en oom Johan daar woon (én solank Riaan nog die nuus op TV lees) is die Kaap Hollands.

Nou het Riaan afgetree, en tannie Doreen en oom Johan woon nie meer in Sewentiende Laan nie. Maar ek droom nog baie dat ek daar gaan kuier. En as ek op ‘n “trip down memory lane” gaan, soos nou weer, vind ek vir ‘n wyle ‘n holte vir my voet.




Friday 17 May 2013


Dorie en die Bergdromer (Deel 2)

Soms knor dit in Kammaland

En so, tussen die laggies, die drome, die lief en die leed, slaat die lewenstorme almaardeur woedend om ons heen, wie of wat ons ook al is. Die sensitiewes en swaarmoediges onder ons tjop by uitstek af. En om seëninge te tel, help nie juis as jy klaar diep in die donker gat sit en die branders oor jou kop breek nie ...

‘n Siniese eks-kollega verwys alte graag smalend na die buurt waar ek woon as “Kammaland”. En dit laat my onwillekeurig aan daardie fraaie liedjie uit ons prille jeug dink. (Onthou julle – iemand speel die deuntjie uit die FAK op die klavier, terwyl almal so weemoedig en effe trekkerig saamsing?)

DIE BOOTJIE NA KAMMALAND

Woorde: EITEMAL
Musiek: C.M. VON WEBER; verwerk: H. PIETER VAN DER WESTHUIZEN, 1977

Hoe sag gly ons bootjie, en wieg heen en weer
op golfies wat dein oor die maanblanke meer!
Met kommer en sorge gelaat op die land,
wuif ons aan die vriende vaarwel met die hand.
Verbeelding is stuurman, hy sit aan die roer,
en wys ons die weg wat na Kammaland voer;
dis oos van die son en dis wes van die maan,
die land waar die jonkheid mos nimmer vergaan.

Die sterre staan hoog aan die hemel op wag,
en strooi oor die water hul tint'lende lag.
Die windjie is wakker, hy suis langs ons oor
en dans op die maanpad wat flikker hier voor.

En ruisend kom sit op die agterskip nou
die sluimer met albei sy vlerkies gevou.
En wiegende kom ons in Kammaland aan,
ver oos van die son en ver wes van die maan.


Maar liewe eks-kollega, vergeet van “oos van die son en wes van die maan”. Laat ek dit nou maar vir jou in enkelstreep– Gotiese blokletters uitspel: hier in ons gewaande Kammaland, Noord van die Boereworsgordyn, knor dit van tyd tot tyd, en sommer kliphard daarby.

Soms “suck” dit só erg om mens te wees dat jy soos ‘n uitgebrande “sparkler” op Guy Fawkes voel. En dan stem ek roerend met met my pa saam: “Die lewe is nie ‘n Sondagskoolpiekniek nie.” (Gits, noudat ek daaraan dink - was ‘n Sondagskoolpiekniek al ooit lekker? Maar ek dwaal af.) Scott Peck stel dit ook baie duidelik, sommer aan die begin van sy beroemde boek The road less travelled, dat die lewe nie vir sissies is nie.

As “the dark night of the soul” toesak, om watter rede ook al, wat is daardie “iets” wat ‘n mens laat voortgaan? Wanneer dit voel of jy niks meer het om te gee nie, “when you are running on empty?” Geloof in ‘n Opperwese, hoop “that this too shall pass”? Of daardie 1 Korintiërs 13-liefde wat alles oorwin?

“I want to know if you can get up after the night of grief and despair
Weary and bruised to the bone
And do what needs to be done
To feed the children”

En verder:
“I want to know if you can see Beauty
Even if it is not pretty every day.
And if you can source your life from its presence”

Kan jy sin maak uit dit wat met jou gebeur, is daar ‘n les uit te leer? Ek dink altyd aan wat Viktor Frankl gesê het – as jy die “waarom” kan beantwoord, kan jy feitlik enige “wat” hanteer.
“I want to know if you can sit with pain
Mine or your own
Without moving to hide it
Or fade it or fix it …

“I want to know if you have touched the centre of your own sorrow
If you have been opened by life’s betrayals
Or have become shrivelled and closed for fear of further pain.”

Ek het nie regtig antwoorde nie – nie vir my nie en, helaas, ook nie vir jou nie. My vrae is blote klippies in die bos. En ek wens maar net dat die wakker, suisende Kammaland-windjie (al die pad van “ver oos van die son en ver wes van die maan”) eendag op ‘n reëndag die antwoorde in my oor sal kom fluister …

Al wat ek weet, is dat die grootste uitdaging en krag van menswees daarin lê om steeds oop te maak, oop te bly ná seerkry, en nie sommer maar net stilletjies dood te gaan nie.

Vir my help dit om die woorde “nogtans sal ek jubel” soos gebedskrale om my nek. te hang. Dit kom uit Habakuk 3:17 & 18. (Terloops, ‘n gelyknamige bundel deur Audrey Blignault is deur hierdie verse geïnspireer.)

“Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie - nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil.”

Al gaan dit soms tos in Kammaland, die Kaap of Kakamas, om van Keimoes, Kaapmuiden of Kanada nie eens te praat nie, sal ek steeds my “joyful noise” probeer maak, al kan ek nie sing of klavier speel nie, en al staan juffrou Farmer dreigend nader met die FAK!

Saturday 11 May 2013

Dorie en die Bergdromer (Deel 1): Die Invitasie




(Hierdie stukkie is gebaseer op ‘n “spietsie” wat ek een aand lank lank gelede, in Oktober 2008, by die Hoërskool Durbanville se Vonkelvrou-aand afgesteek het.)

Kyk, susters en niggies, maatjies en dalk ‘n ou nefie hier en daar – die lewe is nou nie juis aljimmers vir my ‘n lied nie.

En ek wil dit illustreer deur my storietjie vir julle te spin, want dit is per slot van rekening die enigste storietjie wat ek kán spin. En dit wil ek doen aan die hand van aanhalings uit “The Invitation” van Oriah Moutain Dreamer wat ‘n paar jaar gelede die rondte gedoen en wêreldwyd groot opslae gemaak het. Sy rig ‘n uitnodiging aan ons om die uitdagings van die lewe, die lief én die leed, te aanvaar, en ons nie deur seerkry te laat onderkry nie. (Hoewel my eersgeborene my destyds by die aankoop van die boekie vermaan het: “Moeder, ek sal u ernstig oor u leesstof moet aanpreek.”)


Nou hoekom is die lewe dan so dikwels nie vir my ‘n lied nie?
In die eerste plek is ek  letterlik toondoof: In Sub. B is ek summier uit die Lentedagkoor verban nadat die juffrouens dae lank kop gekrap het oor die oorsprong van die wanklank te midde van die andersins jubelende tone. En in die hoërskool het ek net-net my plek in die koor “verdien” deur tee aan te dra vir die meneer wat die stemtoetse gedoen het.

In die tweede plek is ek maar so half swaarmoedig gebore. Toe die ander Sub. A-maatjies tou en rek gespring het, aan-aan en donkerkamertjie, Barbie, albaster, cowboys-and-crooks gespeel het, het ek so taks om taks smartlik aan’t huil gegaan omdat die skool (en die ganse lewe) vir my soveel verwarring ingehou het. Ek het alte dikwels met die verkeerde boodskappe by die huis aangekom. So het ek, byvoorbeeld, vir my ma geld vir Bybelbestryding, in plaas van Bybelverspreiding, gevra. En toe die juffrou versoek dat ons ‘n liniaal moet aanskaf, was ek heeltemal “verbokkereerd” (familiewoord uit my ma se geledere), want my vrome moeder het gewoonlik van ‘n duimstok gepraat.

Nodeloos om te sê, het my akademiese loopbaan nie juis met ‘n oorverdowende knal “afgeskop” nie. Om te lees van Sus en Daan, Koeloe, Boef en Kiet, en om daai doppies uit te pak om somme te doen (onthou julle nog, Sub. A-klas van 1965?) het vir my net geen sin hoegenaamd gemaak nie. Ná ongeveer ‘n jaar op die skoolbanke het die juffrou agtergekom ek memoriseer die leesles by die huis, om dit dan in die klas te kom “opsê”! En my jare lange skermutseling met Wiskunde het uiteindelik in standerd 7 op ‘n miserabele “whimper” uitgeloop … met die H wat ek in die eindeksamen“behaal” het. My pa se ontploffing het darem vir ‘n “bang” gesorg – hy kon hierdie kordaatstuk van sy oudste kind net nie kleinkry en/of verwerk nie …

Verder moes ek dikwels hoor “Dorettie is ‘n vettie”. En nee, dit het op sportgebied ook nie juis waffers gegaan nie – inteendeel! Noem maar op: atletiek, (dwerg)tennis, netbal, die gevreesde “Liggies”-periode, hokkie en ballet. Ek trek daar liefs ‘n sluier oor, ter wille van die sensitiewe leser (én my fragiele ego). My pa het telkemale probeer preek oor ‘n gesonde liggaam wat dan nou kwansuis ‘n gesonde gees sou huisves. En ek het maar net gewonder oor my diep verwonde binneste, die gevolg van al die gespot oor my komieklike sportvertonings …

Wat van klavier? In standerd twee het ek dié uitdaging heel paraat en geesdriftig aanvaar en geoefen dat dit klap. Die juffrou was versigtig optimisties (soos die politici van ouds) oor my “vordering”. Maar ai, net vóór my eerste Unisa-eksamen, moker juffrou Farmer my met die FAK Sangbundel oor die kop omdat ek my toonlere so nougeset in ‘n honnebrekfis omskep het. En ná die eksamen wou sy nie eens my rapport vir my wys nie. Sy was glo bang die terugvoer sou my vir ewig knak …

Maar boeta, daar was één gebied waarop ek uitgeblink het - as dit by praat kom, was ek voor in die koor. Hierdie talent het my voortdurend in die moeilikheid by die skool laat beland. Ek is oor die vingers geraps, in die hoekie laat staan en reëls laat uitskryf – tevergeefs! Daar is spottenderwys na my as “Orreltjie” verwys. En as die Retief-gesinnetjie Sondae ‘n entjie gaan ry het, het my ma-hulle belowe om my te betaal as ek net om hemelsnaam sou stilbly. Aan die ander kant het my ou moeder “delusions of grandeur” gehad en my aangemoedig om Regte te swot, want met so ‘n “bek” moes ek doodeenvoudig ‘n “advokaat” word. Wat, helaas, nie gebeur het nie!

Dit volg seker logies dat ek uiteindelik ‘n (kortstondige) flirtasie met die verhoog sou hê. Maar ook hier is my gevoelige, romantiese, hoopvolle sieletjie gekwes. Ek moes dekor verf, of anders is ek ge-“typecast” as nare hekse, viswywe, uitgerafelde dames van verskeie kontinente en/of “cantankerous” ou vrouens.

Teen hierdie agtergrond, dan nou die eerste aanhaling uit “The Invitation”:
.
“I want to know if you can live with failure
Yours and mine
And still stand at the edge of the lake
And shout to the silver of the full moon,
‘Yes!’”

My “yes” was ‘n skaterlag! Ek het begin om vir myself te lag (al het dit dikwels aan histerie gegrens). Ek het geskitter in my onvolmaaktheid, ek was die hoofspeler in my eie “comedy of errors”.

En daar haak ek af en skryf in standerd ses my eie drama, palm selwers die romantiese hoofrol in (Rosabella, as ek reg onthou), met nie minder nie as vier “lovelorn swains” wat verbete om my hand veg. En ons voer dit op (met die hulp en bystand van my Afrikaans-onderwyser, mnr, Charles Fryer)! Om die een of ander rede het die een gehoor na die ander dit egter as ‘n komedie in plaas van ‘n tragiese liefdesverhaal gesien, en bulderend gelag as hulle eintlik ‘n traan moes wegpink. Ek het sekerlik my naam onherstelbaar met ‘n plank geslaan, maar “for once” was ek ‘n romantiese heldin, en nie ‘n bose heks nie …

“It does not interest me how old (or young for that matter) you are.
I want to know if you will risk looking like a fool
For love
For your dream
For the adventure of being alive.”

(Word vervolg)

Saturday 4 May 2013

The story behind clog up



Wilma, hierdie een is vir jou!

Once upon a time there was a little clog in  Holland. He was very down because he longed to be clean, but he was always full of mud. His co-clogs, equally dirty, but not unhappy about it, watched in trepidation as he became more and more depressed.  As they were male clogs and not blessed with superior emotional intelligence, they did not really know how to help their dirty little friend. They eventually resorted to mumbling: “Clog up!” every time they saw him, in an effort to get him out of the pit of despair. At first it irritated him, but later he just started laughing when he heard those words. After a few weeks, he started to accept his filthy state and the fact that it would be a permanent state of affairs, at least for as long as he would be a working clog. So, he invited his dear, dirty co-clogs for a few rounds of Dutch beer to celebrate his new-found insights. And it was bottoms up all the way, into the early hours of the morning!

To this day, in clog country, “clog up” is a friendly reminder to cheer up, look on the bright side and make the best of things!  


   

Wednesday 1 May 2013

The story behind SCOT FREE


In our department at work (the crazy editors), we play a little game on Fridays: an illustrious colleague, Liesel, sends us an expression, with the challenge of telling the "story" behind it. 

Here is my story behind the expression "scot free":

I think we must let our imagination run wild ...

I reckon this expression can be traced back to someone who was hopelessly addicted to whiskey. In his drunken stupor he had a Damascus experience, was powerfully convicted of the error of his ways, and decided to lay off the booze. After a period of sobriety, he declared euphorically, tears streaming down his drink-ravaged visage: “I am Scot(ch) free!”

(Incidentally, his wife and children preferred him Scot(ch) bound. The friendly, bumbling generous drunk of days gone by was far preferable to the zealous, judgmental, loud-mouthed, wild-eyed Scot(ch) free phenomenon they now had to put up with … But that’s just an aside …)